Sunday, May 28, 2006

Gotiese potjies en swaar metaal op die plotte

Goths maak 'n mean potjie.
Een met aartappels, baba mielies, mini sampioene en 'n bietjie beesvleis.

Nie tong van 'n likkewaan, vlerke van 'n vlermuis en bloed van 'n newt nie. Gewone, stoere boerepotjie. En dis smaaklik.

Hoe het ek (ligte hare, dra pienk, groen en blou klere) by 'n Gotiese potjiepartytjie op Bloemfontein se plotte uitgekom, wonder jy seker (jy beter WONDER).

Wel, die aantreklike persoon van die teenoorgestelde geslag (ja, hy is toe nie net redelik aantreklik nie) het my van 'n vervelige Saterdagaand gered toe hy my na 'n braai saamnooi.

"'n Braai? Cool, dit klink lekker."
Want dit doen, dit klink lekker. Dit klink 'n bietjie normaal en white picket fence, maar wie is ek om te kla oor 'n Saterdagaand vol nuwe mense en heerlike braaivleis?

Daar was nie 'n white picket fence nie. Daar was nie eens normaal betrokke nie.
Wat daar was, is heavy metal skreeu-my-keel-gaar musiek, flitsende neonligte, 'n bonfire, 'n swaar metaal kruis en 'n tuisgemaakte middeleeuse swaard.

Tussen die lang maer mans in stywe swart leerbroeke, rooi visnet spantoppies, swaar stewels en "hey, Neo soek sy jas terug" tipe jasse het ek so naby aan Care Bear gevoel as wat 'n 23-jarige, 1,76m lange fleshy mens kan.

Vier Gote, vyf heavy metal junkies en 'n Ben Harper-aanhanger staan om 'n bonfire...
Ons klink bietjie soos 'n grap, maar die potjie was lekker, die bonfire het die ergste Vrystaat-koue verdryf en heavy metal is 'n interessante genre waarvan ek nog baie kan leer.

Gote is nie vreesaanjaend nie - ek het dit besef toe langeraat-in-swart lugskimme met sy swaard aangeval het op die plot se groot plat grasperk (o, die plotte is amazing. Dis buite die stad. Van die bonfire kyk jy oor 'n lae muur en op die horison sien jy die stadsliggies blink. En bo jou is 'n fees van sterre en melkweg. Pragtig).

So, Gote vergete het die heavy metal entoesiaste my die res van die aand vermaak. Ek het meer tuis gevoel by hulle as by 'n kuier saam met die plaaslike kerkkoor in Rustic (oulike mense - regtig pragtig, maar ons het net so min in gemeen). Die metal luisteraars - ons het nie noodwendig meer in gemeen nie, maar dit was lekker. Goeie mense, met passie. Ek het respek vir mense met passie - dit hou jou aan die gang.

My metal-opvoeding kry stadig maar seker pas. Dit sal nie my oorspronklike passie vir die musiek waarna ek tans luister oorrompel nie, maar dis interessant om "the road not taken" te kan verken.

En iewers binne in my skuil 'n heavy metal verslawende - Sepultura is 'n great band. En ek doen al my laataand werk saam met AC/DC (dis blykbaar ou skool metal, maar ek gee nie om nie.).

Rock on!! (of is dit nou Metal Voort!!?!)

Thursday, May 18, 2006

Thursday, May 11, 2006


Langenhovenpark.

On the way home. It almost looks like Table Mountain.
Early morning the sunrays aren't yellow, they are pink.

I found this out the hard way. At 6am on a winter's morning in Bloem. Shooting pics for a lifestyle supplement to the newspaper.

Like JT always said:
"Die wêreld is 'n mooier plek vroeg in die oggend."
"The world is a more beautiful place early in the morning"

Thursday, May 04, 2006

Tuesday, May 02, 2006

Jong Stemme rubriek in Volksblad.
Nuut in die Vrystaat...


’n Vriend vir ’n bier ná werk. ’n Vriend vir ’n goeie koppie koffie voor klas. ’n Vriend vir twee keer ’n week gaan fliek, en nog ’n vriend vir as jy net wil oppak en weggaan.

En dan stuur hulle jou sielalleen weg om in die vreemde te gaan werk.
Een oggend word jy wakker, in die hartland.
Enkeling, vreemdeling.
Ontwortel.

Jou enigste vriend die groot swart tas wat jou altyd op vakansies vergesel.
Opgesluit met herinneringe aan die goeie ou dae.

Wat kan jy doen? Jy het jouself vir drie of vier jaar in ’n pragtige, eikbelaande dorp (30 minute van die see) bevind.

Baie gemaklik gelewe op koffies in polistereenkoppies teen R2,50 (R4,50 as jy ’n nagraadse student is en saam met al die ander vierdejaars in die lanie kampusplekkie gaan koffie drink), boksies rooiwyn teen R10 en koshuiskos op jou (ouers se) studenterekening.


Naweke kon jy al vroegoggend buite ’n koffiewinkel gaan sit. Hier het jy jou koffie gesit en drink onder beblaarde eikebome.

Agterna kon jy in die tweedehandse boek- en CD-winkel gaan snuffel vir vergete musikante, of dalk nog ’n versteekte kopie van daardie Sgt Peppers Lonely Hearts Club band plaat vind, soos die een waarmee ’n klasmaat die vorige week kom af-show het.

Maar aan die einde van dié maand gaan daardie vensterkoevertjie jou naam dra.

En jou waardevolste besitting is die (oorspronklike) Kook & Geniet wat jou ma vir jou 21ste verjaardag geskenk het.

As die prys van buskaartjies op die kanariegeelbus met die turkoois sitplekke skielik daal, is jy eerste in die tou om ’n retoerkaartjie Kaap toe te koop.

Op jou laaste dag daar is dit ’n heerlike 40 grade Celsius warm. Hulle trek jou met geweld uit die see uit sodat jy kan gaan pak vir die terugslag.

Maar dan, een onsinnig koue aand in die vreemde, die Rosestad sonder rose, deel jy ’n bottel rooiwyn, ’n paar grappies en ’n vuur wat nie regtig die koue verdryf nie. ’n Paar dae later bel ’n ou skoolvriendin: “Ek woon ook nou in Bloemfontein”.

Die Mystic Boer se renovations is klaar en dit maak uiteindelik weer sy deure vir die publiek oop. Dit lyk baie soos die een op Stellenbosch.

As jy onder die Andy Warhol-agtige prent van die boerekommando-lid met die welige baard staan, raak mens nogal nostalgies.

Maar wie wil nou heelaand onder ’n bebaarde ou oom sit en kuier?

Die goeie ou dae word nie verniet so genoem nie.

Dit was lekker, maar dit was nie lekker omdat jy op Stellenbosch was nie. Dit was lekker omdat jy omring was deur goeie mense – wat weer gesorg het vir goeie tye.

En goeie mense is skaars, maar wyd verspreid. Jy kan hulle enige plek vind. Of hulle vind jou. Hang af hoe baie geluk aan jou kant is.

So dis ’n eenvoudige resep: gaan enige plek, oriënteer jouself sodat jy nie die fout gaan maak om in ’n drie-baan eenrigtingstraat op te ry nie. Of om in die Mall klere te koop as hier ’n menigte Chinese klerewinkels met groot winskope is nie (jy moet net mooi soek).

Dan is daar Naval Hill met sy kameelperd-familie. Blykbaar een van net twee natuurreservate binne-in ’n stad. Tafelberg het springbokke en Stellenbosch het eekhorings, maar nie kampeelperde nie.

Die moreel van dié storie? Geniet die andersheid.