Tuesday, May 02, 2006

Jong Stemme rubriek in Volksblad.
Nuut in die Vrystaat...


’n Vriend vir ’n bier ná werk. ’n Vriend vir ’n goeie koppie koffie voor klas. ’n Vriend vir twee keer ’n week gaan fliek, en nog ’n vriend vir as jy net wil oppak en weggaan.

En dan stuur hulle jou sielalleen weg om in die vreemde te gaan werk.
Een oggend word jy wakker, in die hartland.
Enkeling, vreemdeling.
Ontwortel.

Jou enigste vriend die groot swart tas wat jou altyd op vakansies vergesel.
Opgesluit met herinneringe aan die goeie ou dae.

Wat kan jy doen? Jy het jouself vir drie of vier jaar in ’n pragtige, eikbelaande dorp (30 minute van die see) bevind.

Baie gemaklik gelewe op koffies in polistereenkoppies teen R2,50 (R4,50 as jy ’n nagraadse student is en saam met al die ander vierdejaars in die lanie kampusplekkie gaan koffie drink), boksies rooiwyn teen R10 en koshuiskos op jou (ouers se) studenterekening.


Naweke kon jy al vroegoggend buite ’n koffiewinkel gaan sit. Hier het jy jou koffie gesit en drink onder beblaarde eikebome.

Agterna kon jy in die tweedehandse boek- en CD-winkel gaan snuffel vir vergete musikante, of dalk nog ’n versteekte kopie van daardie Sgt Peppers Lonely Hearts Club band plaat vind, soos die een waarmee ’n klasmaat die vorige week kom af-show het.

Maar aan die einde van dié maand gaan daardie vensterkoevertjie jou naam dra.

En jou waardevolste besitting is die (oorspronklike) Kook & Geniet wat jou ma vir jou 21ste verjaardag geskenk het.

As die prys van buskaartjies op die kanariegeelbus met die turkoois sitplekke skielik daal, is jy eerste in die tou om ’n retoerkaartjie Kaap toe te koop.

Op jou laaste dag daar is dit ’n heerlike 40 grade Celsius warm. Hulle trek jou met geweld uit die see uit sodat jy kan gaan pak vir die terugslag.

Maar dan, een onsinnig koue aand in die vreemde, die Rosestad sonder rose, deel jy ’n bottel rooiwyn, ’n paar grappies en ’n vuur wat nie regtig die koue verdryf nie. ’n Paar dae later bel ’n ou skoolvriendin: “Ek woon ook nou in Bloemfontein”.

Die Mystic Boer se renovations is klaar en dit maak uiteindelik weer sy deure vir die publiek oop. Dit lyk baie soos die een op Stellenbosch.

As jy onder die Andy Warhol-agtige prent van die boerekommando-lid met die welige baard staan, raak mens nogal nostalgies.

Maar wie wil nou heelaand onder ’n bebaarde ou oom sit en kuier?

Die goeie ou dae word nie verniet so genoem nie.

Dit was lekker, maar dit was nie lekker omdat jy op Stellenbosch was nie. Dit was lekker omdat jy omring was deur goeie mense – wat weer gesorg het vir goeie tye.

En goeie mense is skaars, maar wyd verspreid. Jy kan hulle enige plek vind. Of hulle vind jou. Hang af hoe baie geluk aan jou kant is.

So dis ’n eenvoudige resep: gaan enige plek, oriënteer jouself sodat jy nie die fout gaan maak om in ’n drie-baan eenrigtingstraat op te ry nie. Of om in die Mall klere te koop as hier ’n menigte Chinese klerewinkels met groot winskope is nie (jy moet net mooi soek).

Dan is daar Naval Hill met sy kameelperd-familie. Blykbaar een van net twee natuurreservate binne-in ’n stad. Tafelberg het springbokke en Stellenbosch het eekhorings, maar nie kampeelperde nie.

Die moreel van dié storie? Geniet die andersheid.

2 comments:

EJ said...

Pragtige stuk, btw. Gee regtig die bphil joernalistieke stellenbosch deur. Ai, ek gaan die plek mis!

Moet nie jou hart aan die vrystaat verloor nie. Die see is waar dit hoort!

michelle said...

Ek wil nou nie corny klink nie, maar daar's genoeg plek in my hart vir vele provinsies... he he ;)