Monday, March 20, 2006

Afrikaans is plesierig
DIS op T-hemde, op aansteektekens, dit pols oor CD-spelers en vloei oor die lippe van die jeug.
Afrikaans lééf, skryf
Michelle Viljoen in Volksblad.
SOMMIGE meen dis ’n Afrikaanse herlewing - groter en sterker as die vorige een in die tyd van die voëlvry-beweging of met die Oppikoppie-feeste in die laat jare negentig.
Afrikaans is ’n lied
“Afrikaans is uniek. En dis ons eie. Iets wat oukei klink in Engels, klink gewoonlik soetsappig as jy dit in Afrikaans probeer sê. Maar as jy dit op ’n nuwe, oorspronklike manier in Afrikaans kan sê, is dit ’n treffer.”

Dis hoekom hul soort Afrikaanse musiek so gewild is, sê Bertie Coetzee, lid van Zinkplaat, kontemporêre Afrikaanse musiekgroep. Hy sê hul musiek is vir jonk en oud bedoel. Volgens hom het die gewildheid van Afrikaanse musiek te doen met ’n soort trots om Afrikaans te wees. As jy raakgesien wil word in Afrikaans, moet jy dit kreatief gebruik.

Chris Chameleon, voorheen lid van die monkipunk-groep Boo!, het verlede jaar Ek herhaal jou, ’n CD met toonsettings van Ingrid Jonker-gedigte, uitgereik. Die liedjies is natuurlik net in Afrikaans, maar die CD is hoogs gewild. Hy het dit al in Nederlands vertaal en dit het “goed af gegaan op toer in Nederland en België”.

“Die mense wat van die musiek hou, het ’n liefde vir Afrikaans en ’n beskermende gevoel teenoor Afrikaans. Afrikaners voel beleërd oor hul taal en snoer saam. Dis een van die redes waarom die Afrikaanse mark tans so gesond is.”

Paul Sebolai, ’n tydelike bestuurder by Musica in Bloemfontein en Kovsie FM-omroeper, sê die Afrikaanse musiekmark lyk sterk. Veral kontemporêre Afrikaanse musikante soos Karen Zoid en Zinkplaat se CD’s verkoop goed.
Afrikaans is ’n illustrasie... wat verkoop
Nie net Afrikaanse musiek is gewild nie. Dit lyk of Afrikaans ’n nuwe mark geskep het waarin entrepeneurs hulself kan uitleef met Afrikaans se sterk visuele trefkrag. Wie sou kon dink iets met die produknaam “Trouvrou” sal soos soetkoek verkoop? Natasha Taljaard, ontwerper en stigter van Trouvrou Produksies, ontwerp en verkoop T-hemde en aansteektekens met Afrikaanse woorde daarop. Die gewildste Trouvrou-T-hemp is een waarop ’n koei met ’n leë uitdrukking vir jou kyk. Onderaan staan die woord “Woef!”.

Taljaard glo haar produk is ’n sukses, omdat dit mense wat ’n sekere tipe humorsin deel, bymekaarbring. Sy sê Afrikaans is die enigste taal wat die “lekker” tipe woorde het wat ’n mens kan gebruik in dié “grappies”.

“’n Mens kan net in Afrikaans ‘trouvrou’ of ‘bitsig’ sê. Dis lekker om onderskei te kan word en deel te voel van ’n groep wat lag vir sekere tipes grappies. As jy die T-hemp dra, wys jy vir mense jy is deel van dié groep. Dis ook ’n goeie gesprekspunt.”

Am I collective, ’n groep grafiese ontwerpers, skryf hul unieke ontwerpe toe aan die Afrikaner-agtergrond waaruit hulle kom.

Ruan Vermeulen, een van dié ontwerpers, sê jong Afrikaners het weggebreek van die konnotasies wat dikwels aan Afrikaans-wees geheg word – dié van “taal van die onderdrukker”, verkramptes en so meer. Hy sê dit het ’n “Afrikaner-revival” teweeggebring. Die Afrikaner moet nou ’n nuwe identiteit vir homself skep. En dit laat baie ruimte vir kreatief wees en eksperimenteer.

“Ons as jong Afrikaners is gatvol om ge-label te word deur die verlede. Ons soek ’n nuwe identiteit en is meer trots op ons taal. En as jy trots is, kry jy selfvertroue, die selfvertroue om te eksperimenteer. Jong Afrikaners is nie bang om te sê wat hulle wil nie.”

"Daardie goed, soos 'gatstamp-musiek', en die wanpersepsies oor
Afrikaners broei in 'n mens."

“Ons kyk 7de Laan – ek is mal daaroor – maar ons kan nie met daardie karakters en daardie lewenswyse identifiseer nie. Daardie goed, soos ‘gatstamp-musiek’, en die wanpersepsies oor Afrikaners broei in ’n mens. En dit vind uiting in ’n soeke na oorspronklikheid. Dit kom soms uit in ’n aggressiewe toon, maar ons as Afrikaners moet skok om raakgesien te word.”

Is die herlewing in Afrikaner-kultuur nie net nog ’n modegier wat gaan kom en weer gaan nie?
Vermeulen glo die herlewing kom al ’n lang pad aan.

“Toe ek in 1998 in matriek was, was die Oppikoppi-musiekfees huge. Valiant Swart was een van die min Afrikaanse kunstenaars, maar hy was gewild.

“Toe neem dit ’n dip vir so twee of drie jaar en nou is dit terug met ’n vengeance. Die herlewing is baie groter as wat dit ooit was. Ek dink nie dit gaan vir ewig hou nie, maar dit lyk of dié goed in siklusse kom. En as die huidige een so groot is, sal die volgende een selfs beter wees.”

Vermeulen glo ook ’n “eksterne faktor” - Afrikaans wat deel word van ’n multikulturele raamwerk - bevorder die kanse op voortbestaan.
Afrikaans: van toeka tot nou, en verder?
In ’n kommersiële sin is daar nou ’n groot mark vir Afrikaans. ’n Nuwe mark waarin jy kreatief met Afrikaans moet omgaan, maar wat van die ou taalstryd? Gaan die gewildheid van Afrikaanse musiek en Afrikaanse slagspreuke die Afrikaanse taal ’n hupstoot gee?

Annette de Wet, Afrikaanse dosent aan die Universiteit van Vrystaat (UV), sê op die oomblik is Afrikaans ’n gewilde “feestaal”.

“Mense gebruik Afrikaans meer spontaan. Dit is die in-ding om Afrikaans kreatief te gebruik. Waar jong mense jare terug eerder Engels sou gebruik het, gebruik hulle nou Afrikaans.”

Sy sê dit beteken ongelukkig nie dat jong mense die taal noodwendig suiwer gebruik nie.
Daar is taallojaliteit, sê De Wet, maar die taal word nog nie oorgedra na die “hoërfunksies” nie, soos om dit in die akademie of in die regering te gebruik.

“Engels is om praktiese redes die taal waarin Afrikaanse studente hul opdragte doen. Dit maak byvoorbeeld jou werk beskikbaar vir ’n groter gehoor.”

De Wet sê die taalvaardigheid onder Afrikaanse studente is oor die algemeen swak. Om na Afrikaanse musiek te luister help nie noodwendig jou taalvaardigheid aan nie. Hiervoor moet mense ook Afrikaanse boeke lees, “maar dis iets wat jy van kleins af moet leer”.

Riaan Bosman, ’n eerstejaarstudent aan die UV, sê dis ’n gewilde neiging onder sy vriende om Afrikaans op kreatiewe maniere te gebruik, maar “ons meng steeds soms ons taal”. Hulle doen dit egter nie so baie soos in Jackie Nagtegaal se boek Daar’s vis in die punch nie, sê Bosman.

“Ons besef Afrikaans is nie ’n ou taal nie. Jy sien dit meer raak op T-hemde en Afrikaanse musiek van kontemporêre groepe soos die Melktert Kommissie raak gewilder. Ons as Afrikaners soek nie meer ingevoerde goed nie.”

Afrikaans is vir baie jong mense nie meer ’n outydse, vervelige manier van kommunikeer nie. Dit blyk dat eksperimentering met die taal die gebruik en gewildheid daarvan verbreed. Dalk moet ’n mens Ruan se siklus-teorie in gedagte hou wanneer ons oor die toekoms van Afrikaans tob.